Anja se Plekkie. Hoofstuk Vyf. 'n Gratis Vervolg Verhaal.

 



Anja se Plekkie

Hoofstuk Vyf



"En toe? Hoe het jou 'date' saam met daai mooi man gegaan? Jy moet my alles vertel." Tannie Isabeau leun op die toonbank toe Anja van die heuwel terugkom.

"Ai, Tannie. Dit was nie 'n 'date' nie. Markus en ek is vriende. Dis al."

"Dit is hoe die beste verhoudings begin Anjatjie. Glo vir my. Dis hoe dit was met ek en my Wikus. Ons was beste vriende voordat ons begin uitgaan het." Tannie Isabeau sug. "Dertig jare saam, en nog verlief." Sy giggel. "En nou, moet ek huis toe waggel, en gou vir daai man van my iets maak om te eet. Tata, Anja. Jou Mama gaan so gelukkig wees." En sy is weg voordat Anja haar kan waarsku om niks vir haar ma te sê nie. Hier kom 'n ding.

Sy sing 'n koortjie terwyl sy regmaak om die kaffee te sluit. Sy voel moeg, maar tevrede. Sy't haarself sommer baie geniet. Sy dank die Here dat hy 'n vriend soos Markus na haar toe gestuur het. Hulle het baie in gemeen. Op die stap terug plaashuis toe, het hulle weer gesels oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe, insluitend hulle geloof en kinderdae. Markus het selfs vir haar gevra of hulle weer kan stap. En sy het ja gesê.


***


Anja hou stil by Abel en Netta se huisie na werk. Hulle drie kindertjies hardloop uit om haar te groet, en Anja gee hulle almal drukkies, sowel as 'n fizzer elk. "Vra net eers vir julle ma of julle dit nou mag eet." Hulle hardloop terug in die huis in, en Anja volg hulle. "Mej Anja." Netta begin om op te staan, maar Anja keer haar. "Nee, Netta, bly sit. Jy moet daai voete laat rus." Sy plaas 'n boks groente wat sy nie kon verkoop nie op die tafel. "Wat het die doktor gesê oor jou voete, Netta?"

"Dis die suiker wat so maak, Mej Anja. Hy't my medikasie gegee." Sy glimlag breed. "Dit help sommer baie."

Abel knik. "Netta gaan gou gou beter voel." Sy glimlag is so breed soos Netta s'n. "Dankie dat jy vir ons omgee Mej Anja. Mag die Here jou seën."


***


Daar is 'n paar nuwe gesigte in die Kerk op Sondag, insluitend die van Markus. Hy vang haar oog en glimlag vir haar. Sy knik en glimlag terug. Dit voel goed om weer binne die huis van die Here te wees. Sy voel dankbaar vir haar kerk en haar Dominee: die Evangelie word hier vrylik verkondig aan almal, maak nie saak wat 'n mens se ras of agtergrond is. Soos Dominee graag sê, God het die hele wêreld, of kosmos lief. Almal het Jesus nodig. Anja buig haar hoof saam met die broers en susters. 

Sy is besig om tee te skink na die diens, wanneer Markus die tafel nader. "Kan ek jou koffie maak? Of tee?" Sy vra hom vriendelik. 

"Koffie sal lekker wees, dankie. Dis goed om jou weer te sien, Anja. Eintlik, ek wou jou vra of ons weer kan stap. Vandag. As dit jou pas."

Anja is bewus dat van die dames rondom die teetafel na hulle kyk, maar hoe kan sy nee sê vir sy oë wat so sprankelend is. "Dis reg so."

"Wonderlik. Ek sal jou buitekant die kaffee ontmoet, kom ons sê, om twee uur se kant?"

Anja ignoreer Tannie Isabeau se enorme glimlag en maak haar werk gou klaar. Sy voel skielik gretig dat twee uur moet kom.


***


Hierdie keer, stap hulle na die rivier wat net buitekant die dorpie verby loop. Dis vol, danksy die winter reën. Die dag is perfek vir stap, met 'n winter sonnetjie wat mildelik skyn op die stappende paartjie. "Ek het rerig tuis gevoel vanoggend by die kerk." Erken Markus. "Toe ek heer aangekom het, was ek bekommerd dat ek nie 'n kerk tuiste sou vind nie, maar Oupa het my gerusgestel toe hy van die kerk vertel het."

"Ek is bly. Dis belangrik om 'n Bybelse kerk tuiste te vind. Daar is soveel dwaal leringe in die dae waarin ons leef."

"Verseker. Dit maak 'n mens nogal kwaad om te dink hoe sommige die Skrif verdraai. Dit hoort nie so nie." Anja kan hoor dat Markus passievol is oor díe saak. Sy stem saam. "Ons moet waak en bid. Dis wat Dominee sê."

Markus glimlag weer. "Maar kom ons los daai onderwerp vir 'n ander dag."

Anja is skielik bly om Markus te hoor praat oor 'n ander dag. Sy wil graag weer met hom stap. "Waaroor sal ons praat? Jy moet kies."

Hy lag. "Ok. Maar jy mag dink dis te persoonlik."

Anja bloos skielik en haar hart fladder. "Vra maar."

"Is daar 'n spesiale iemand in jou lewe?"

Markus dink hoe pragtig Anja lyk as sy bloos, maar hy sê niks terwyl hy wag dat sy moet antwoord.

Sy skud haar kop en gee 'n klein laggie. "Nee, ek het nie 'n kêrel nie."

Markus kan nie die gevoel van blydskap keer nie. "Ek ook. Ek bedoel, ek het nie 'n meisie nie."

"Dan sal ek moet bid vir net die regte vrou vir jou." Anja lag, maar dit klink hol in haar ore. As Markus sy trou-vrou vind, sal hy seker nie meer saam met haar sal kan stap nie.


***


Kopiereg: Alison Lawrence


Anja Se Plekkie Hoofstuk Vier:


Skakel


Hoofstuk Ses


💜💜💜


Dankie vir die inloer. Deel gerus. Sien julle more vir hoofstuk ses.


Liefde en gebede,

Alison

Opmerkings

Gewilde plasings