'n Ewige Boodskap
'n Ewige Boodskap
JOHANNES 3:1-21 AFR53
[1] EN daar was 'n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, 'n owerste van die Jode. [2] Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. [3] Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. [4] Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? [5] Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. [6] Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. [7] Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. [8] Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. [9] Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? [10] Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? [11] Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. [12] As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? [13] En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. [14] En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, [15] sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. [16] Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. [17] Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. [18] Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. [19] En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. [20] Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. [21] Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
https://bible.com/bible/5/jhn.3.1-21.AFR53
***
Ons dierbare vriend wie nou saam met sy Redder 'n nuwe advontuur aanpak, het net 'n kort ruk voor sy heengaan hierdie woorde saam met my seun gelees .
Die twee vriende het saam Bybelstudie en koffie geniet.
En nou, terwyl ons harte stukkend is en ons vind dit moeilik om te glimlag, lui díe boodskap wat hy so pas gelees het duidelik uit: jy moet weer gebore wees.
Liewe leser, dit is so waar. Dit is die kern. En dit sal vir ewig so wees.
Nou mag ek saam met ons liewe vriend in die hemel vra: is u ook weer gebore? Het u ook vir Jesus as u verlosser en saligmaker aanvaar?
Bely u sondes, en roep uit na Hom om u te red. Doen dit vandag. Dis vir ewig.
Jesus is lief vir jou.
xxx




Opmerkings
Plaas 'n opmerking