April Brief
April Brief
Liewe Leser,
Hoe gaan dit daar met u? Ek hoop dat u die vreugde en die vrede van Die Here ervaar, asook dat Sy krag u elke dag veilig deur dra.
Ja, die somer was glad nie maklik nie: dis nie net die wêreld wat brand nie. Nee. Die son het ook ernstig en kwaai hier in Maart maand gebrand. Ten spyte van alles, is ons nog hier, en daar is seker tog 'n goeie rede daarvoor. Ek kan net weer Jesus se opdrag in hierdie laaste dae onthou...
Hier onder sal ek 'n paar fotos van ons tydjie in Citrusdal plaas. Dit was wonderlik. :)
Ek sal ook 'n paar gedigte plaas. Tot volgende maand, as Die Here so wil.
Met liefde en gebede,
Alison. xxx
Verlange
Verlang jy na iets mooi's, iets teer,
wyl gister liedjie oor jou streel?
Die mense skarrel hier en daar,
en met AI, wie weet wat's waar?
Wreed oorlog dreun op elke foon,
en Google weet nèt waar jy woon...
Pes, en ramp, geld wat verdwyn,
en orals mense kreun van pyn.
Verlang jy na iets mooi's, iets teer,
wyl gister liedjie oor jou streel?
Wel, sit jou klein swart boksie af;
aanbid Die Een van lief'd en mag
In stilte, luister na Sy stem,
Hy is Die Een Wie vrese tem.
En, ja, ons moet vertel en bid,
tot Jesus kom op wolke wit.
***
My Herder
Die Here is my Herder,
deur hitte golf en reën,
en as die storm bruis en kreun,
Hy dra vir my, Hy ondersteun.
Die Here is my Herder,
deur als wat op my wag,
en selfs verdwyn die paadjie,
Hy gee my van Sy krag.
***
![]() |
| 'n Citrusdal wandel |
![]() |
| Deur die venster |
Ou Dame
Citrusdal se mooi
roep saggies vir my
van 'n grasieuse ou dame
met haar diep broekie kant stoep
en ou Kaapse styl.
Van uit haar skadu-ryke
oasis tuin -
Vader stem wat fluister,
loop stadig, en wees stil.
***
![]() |
| Citrusdal uitkyk |
Kopiereg: Alison Lawrence.






Opmerkings
Plaas 'n opmerking