Reis Na Die Einde: Vervolg Verhaal. Hoofstuk Vyf

 



Reis Na Die Einde: Vervolg Verhaal. Hoofstuk Vyf



Dis Maandag. Die naweek het vinnig verdwyn, maar toe Miandré Wian se gesig sien wanneer hy op die trein klim, lyk dit asof hy op vakansie gaan. Sy gesig is die ene blydskap. Miandré snap vinnig dat hy anders lyk.

"Ek het dit gedoen, Miandré! Ek het Jesus gevra om my te red; my sondes te vergewe. Ek voel soos 'n nuwe mens!"

Miandré se lag is soos 'n borrelende stroompie. "Want jy is! Jy is weergebore!" 'n Vrou oorkant hulle gluur hulle aan, en hulle bedaar so bietjie. "Dis wonderlik, Wian. Ek is so bly. Vertel my meer."

Die trein rit is hopeloos te kort, en voor lank is hulle in Kaapstad. Dis moeilik vir beide van hulle om van die hoogtes af te kom. Wanneer Wian Miandré vir koffie nooi, sê sy vinnig ja. Wian se neut-bruin oë sprankel met nuwe lewe, en Miandré sien daarna uit om meer tyd saam met hom te spandeer.


***

"Dis omdat jy daai traktaatjie op die trein gelos het, dat ek hier sit en getuig," Wian roer sy koffie stadig, later by die koffiewinkel, "ek kan nie genoeg dankie sê nie."
Miandré bloos so bietjie en kyk af na haar cappuchino. "Ek het net gedoen wat die Here my gevra het om te doen. Die tyd is so kort." Sy kyk weer op, haar peridot oë ernstig, "Jesus se terugkoms is so naby. Ek glo dit, Wian. Jy hoef net te kyk na alles wat aangaan in die wêreld om dit te sien."
"Jesus kom weer?" Wian sit reggop in sy stoel.
"Ja, Wian. Die Bybel leer ons dat Jesus gaan vir Sy kinders kom haal." Miandré soek vinnig die verse op haar foon, "Ek sal hulle met jou deel. Ek het mos jou nommer." Sy vergeet om skaam te wees. Dis wonderlik om die wegraping en die wederkoms met 'n nuwe gelowige te deel.


***

Die volgende oggend, fluister Miandré 'n gebed van dankbaarheid, en die see oorkant die stasie, skitter 'n loflied saam. Nog 'n kind is bygevoeg by God se familie. Sy voel duidelik Die Here se nabyheid en Sy ontsettend groot liefde. 

***

By Lakeside, klim Wian op die trein, en sy glimlag is nog so breed soos diè van die vorige dag. 
Miandré het die sitplek langsaan haar vir hom gehou. Hulle oë ontmoet, en Miandré se hart bons.
"Dankie." Sê Wian eenvoudig.
'n Rukkie later, is hulle weer aan die praat oor die verse wat Miandré gedeel het.
"Dit maak sin. Jesus moet terugkom om hierdie wêreld uit te sorteer. Te oordeel, soos jy dit gestel het. Ek hoop net dat ek gereed gaan wees." Wian klink ernstig.
"Die belangrikste is dat jy nou aan Hom behoort. Die Heilge Gees sal vir jou stap vir stap wys wat jy moet volgende doen." Miandré bemoedig hom.
"Wel, ek weet ek wil nie meer drink nie," Wian kyk na haar, "en ek wil nie leef soos ek het nie, en vuil taal gebruik nie." Wian lyk skielik 'n bietjie skaam. "Maar ek wil graag vra of jy saam met my by 'n mooi restaurant sal gaan eet, Miandré."
Miandré voel hoe haar hart weer bons.
"Ek dink dit sal baie lekker wees. Dankie."
Wian glimlag breed. "Ons weet nie wat môre vir ons inhou nie; maar ons het Jesus."
"Ja, ons het. Verseker."
Toe hulle opstaan om by Kaapstad uit te klim, kyk Miandré vinnig oor haar skouer na hulle bankie, soos sy dit nou begin noem het. Toe sien sy iets wat die trane skielik laat kom: Wian het twee traktaatjies daar gelos.


***

Die Einde.❤️❤️❤️

Kopiereg: Alison Lawrence.






***

Dankie vir die saam lees


***



Opmerkings

Gewilde plasings