'n Versameling van Kort Verhale en Gedigte. Gratis Bundel.

 




'N VERSAMELING VAN KORT VERHALE EN GEDIGTE



DEUR ALISON LAWRENCE


Kopiereg: Alison Lawrence. 2023







NIKS WERD





Soos voëls sonder vlerke


is my dooie werke,


as ek strewe sonder U Gees,


sal my lewe 'n dors-land wees.






VAN DONKER TOT LIG





O Here, dit is so donker,

Waar ek so hooploos wandel;

So vêr, so vêr van U.

Waar die vrese en vrae oorheers,

Daar's niks liefde, niks vrede, niks vreugd.


Desperaat, ek roep uit, ek bely,

En daar waar ek struikel en gly,

U neem my hand en help my

En my voete vind vaste grond.


U hou my hand en lei my vêr  

Weg van die verkeerde pad,

En daar is die skoonheid hemels

Waar natuur prag skitter en sing.

Maar die mooiste, mooiste van alles

Is my Jesus

Wie stap aan my sy.






ALTYD DAAR


Alleen en klein

Kyk ek op na die Stêrre

En ek wonder of God my kan sien.

Dan onthou ek, Hy's hier in my hart,

So naby,

Hy't nooit my verlaat.






'N WALLIESE WANDEL



Nota van die outeur: hierdie kort storie is 'n epiloog vir my vroëer storie, "Whispers of Wales." "Whispers of Wales" is beskikbaar op "Basket Of Hope." Skakel


*******




James en Ruby ry van Cardigan na Llandygwydd in hulle huur motor. Hulle is op hulle droom wittebrood. Beide van hulle het vir maande lank genealogiese navorsing gedoen. Ván James se voorouers het van Ierland na Suid Afrika gekom en Ruby se Oumagrootjie het van Wallis gekom. So, hier is hulle nou en Ruby kan amper nie glo dat sy op die punt staan om Llandygwydd te sien nie. Die plekkie met die onuitspreekbare naam was die geboorte plek van haar Oumagrootjie. 


"Dis ongelooflik groen," Ruby staar gretig na die verbygaande toneel."Kyk! Daar's skape!"


Haar voorvaders was waarskynlik skaap-wagters; en Noella, haar Oumagrootjie was 'n bediende: eenvoudige, hardwerkende mense.


James is besig om te konsentreer op die vreemde pad, maar hy glimlag breed. Sy bruid se vreugde maak hom ook bly. Hy voel asof hy 'n verband met Ruby se voorouers deel: hy het 'n pad met Ruby gestap toe sy op haar soektog was."My skat, ek dink ons is amper daar. Kyk, daar is 'n padteken."


"Llan-dyg-wydd" Ruby spreek dit stadig uit. "Dis 'n mondvol né?"


James lag, "Ja, maar ek het ander name al gesien wat langer én moeiliker is om te sê. En daar sal seker ook vreemde plek-name in Ierland wees." Hy is gretig om Ierland te aanskou. Sý Oupagrootjie het oorgekom na Suid Afrika op die ouderdom van 21: 'n timmerman.


En skielik kom hulle in die klein ou dorpie aan. Ruby het bietjie navorsing oor die dorpie gedoen: daar is nie eens 'n poskantoor nie. Hulle parkeer langs die kerkie van St Tygwydd. Hulle stap rondom die pragtige geboutjie, maar hulle is eintlik opsoek na die ruïnes van die oorspronklike kerk. Ruby glo dit kon gewees het waar haar voorouers aanbid het. James kyk rond, en toe sien hy die ou stene: dit blyk te wees die fondasie van die ou, ou kerk.


Stadig, eerbiedig, wandel hulle rondom die fondasie, hand aan hand. Ruby wonder of sy droom, maar James se hand voel warm en lieflik in hare en sy weet haar drome en gebede word beantwoord.


Na 'n rukkie, stel James voor dat hulle 'n biejie verder wandel. Dalk sal hulle 'n plek vind om hulle piek-niek te geniet. Ruby stem saam. Na 'n kort stappie, vind hulle 'n skadu-ryke plekkie onder 'n groot eikeboom. Daar sprei hulle 'n kombers uit en sit heel gelukkig en geniet hulle middagete. Klaar geëet, sit hulle stil en nadenkend, naby aan mekaar. 'n Troppie skape wei nie ver van hulle af nie. Ruby verbeel haar sy is terug in die 1900's. In watter tipe huisie sou haar voorouers gewoon het? Wonder sy. James geniet die vreedsame landskap terdeë. "Weet jy skat, as ek na die skape kyk, herinner dit my van Jesus die goeie Herder. Hy is so goed vir ons. Hy lei altyd Sy skape na goeie wyvelde né?"


Ruby knik. Sy bestudeer die skape. Hulle lyk glad nie angstig nie. Hulle eet heel rustig, en later sal die skaapwagter hulle miskien na 'n ander plek toe lei. Net soos Hy haar Oumagrootjie na Suid Afrika al daai jare terug toe gelei het. "Ja," sê sy, "Hy is beslis ons goeie Herder."


Dankbaar, sit hulle daar 'n bietjie langer terwyl hulle die skape dophou, wetend dat die goeie Herder hulle altyd sal lei waarookal hulle gaan.




Die Einde.



*******



'N KANADESE VERBAND






Ina voel so treurig soos die weer daar buite op hierdie ys-koue wintersdag in Calgary. Die sneeu lê dik, en ander mense is seker besig om te ski of om sneeu-manne te bou, maar Ina is alleen. Tans, bly sy meestal by die huis op Saterdae. Sy hou haarself besig deur die woonstel skoon te maak. Ina sug, en die trane lê vlak: hy't haar gelos vir 'n ander, en haar lewe het tot 'n stilstand gekom. Sy draai weg van die venster; weg van die vallende sneeu en maak 'n laai oop. Sy sal haar boeke uitsorteer. Sy voel vandag asof sy sommer alles kan weggooi. Dan sien sy dit. Tussen die romanse; haar ouma se dagboek. Ina hou dit amper eerbiedig in haar hande. Is dit dalk bedoel dat sy die dagboek vandag moes vind? Sy gaan sit op haar gemakstoel, opgekrul soon 'n kind en maak die ou book oop.




25 November 1975


"Liewe Jesus, Ek dink ek gaan só skryf. Ek gaan nie 'liewe dagboek' skryf nie, want 'n dagboek kan my nie help nie. Maar U kan. Ek hoop so. O, ek hoop so! Jesus, U is al Een Wie my kan help; Wie my rerig sien. Ja, Jim is hier. En ek is so lief vir hom. U weet, dit was vir Jim dat ek al die pad van Suid Afrika na hierdie vreemde, ysige plek toe gekom het. En ek wil nie kerm nie, Liewe Jesus. Ek is so geseënd. Ek het Jim, maar ek voel stoksielalleen. Ek voel onsigbaar in hierdie stad; amper soos 'n enkel oranje blommetjie tussen al die geles in die veld. Nou wil ek huil as ek aan die Weskus dink. O, Jesus, en ek mis my mense verskriklik baie. En my taal. Jim is so gaaf: hy leer Afrikaans praat vir my. En ek skryf al daai briefies aan Ma en almal by die huis. O, Here, ek is so, so eensaam. As ek winkel toe gaan, voel ek soos die arme eendjie in daai storie. Ek is jammer Here. Ek weet daar is oral gawe mense. En Jim se familie en vriende. O, Here, sal U asseblief 'n vriendin vir my stuur? Ek is so eensaam Here. Amen."






Ina se oë en hart is vasgenael op die ou bladsye. Sy lees voort:




26 November 1975


"Liewe Jesus, O, Here, ek is so dankbaar. En jammer. Ek het só gekerm; so jammer vir myself gevoel. En toe het U saggies, so liefdevol binne in my hart gepraat: "Johanna, is Ek nie genoeg nie?" En ek kon net huil. Ja Here, U is genoeg. Selfs as ek nooit 'n vriendin kry nie; U is genoeg. U sal altyd genoeg wees. U is alles vir my. Ek is lief vir U. Amen."




Ina sit net daar, die dagboek oop op haar skoot. Die sneeu val saggies buite, maar dit voel nou soos 'n troos; 'n seën. Dit is asof Liewe Jesus én haar geliefde ouma haar bemoedig. Haar herinner. En sy onthou. Sy onthou haar ouma se sterk en geankerde geloof. Met ondersteuning van Oupa Jim, het sy haar taal lewend gehou. Dat Ina haar dagboek kon lees, is bewys daarvan. Ina kan haar nie indink nie hoe bitter moeilik haar ouma dit moes gevind het om in 'n vreemde land haar getroude lewe te begin. Maar sy het daarin geslaag: met die Here se konstante hulp en ondersteuning. En op die ou end, hét sy 'n goeie vriendin gekry; óók 'n klompie meer, by die kerkie waar sy en Oupa Jim 'n tuiste gevind het. Ida streel die ou dagboek saggies en sy glimlag vir wat voel soos die eerste keer in maande, terwyl sy haar hart wyd oopmaak vir Jesus.




Die Einde.



*******




'N AU PAIR IN ISRAEL








Dis asof die duiwe in die dennebome weet dat dit amper tyd vir 'n middag slapie is: hulle koer-koer geluide klink saggies en teer. 'n Gepaste klankbaan vir 'n kleuter wie moet net nou insluimer, dink Adeleen Pelser, terwyl sy die woonstel deur oopmaak. Sy dra die twee-jarige op haar een heup en sleep die stootwaentjie saam.


Hier in Haifa, moet 'n mens fluks wees: die besige stad is op 'n heuwel gebou en daar is selfs 'n kabelkar. Maar Adeleen is jonk en sy het gepresteer in netbal by haar Pretoriaanse skool. Sy het haar hele lewe lank gedroom dat sy eendag deur die wêreld sou reis en miskien van haar avonture sou skryf en videos maak vir You Tube. Sedert haar skooldae het sy amper al haar inkomste van haar kelnerin werk gespaar. Met 'n bietjie hulp van haar ouers, het sy dit reggekry om na Haifa toe te kom. 


Noah en Abigail Bichler was opsoek na 'n au pair vir hulle dogtertjie Eliana. Dit het geblyk die perfekte geleentheid te wees. 


*******


Die woonstel is oud maar luuks, met koel marmer vloere: perfek in die somer hitte. Daar is selfs 'n biblioteek met rakke vol Hebreeuse boeke en 'n ruim balkon met 'n uitsig oor die tuin se denne- en Sipresbome. Adeleen plaas Eliana in haar hoë stoel. Die oulike rooikop glimlag vir Adeleen, maar haar oë lyk vaak." Chalâv?" Adeleen gebruik die Hebreeuse woord vir melk. Die kleintjie knik en Adeleen sit haar koppie saam met vrugte en jogurt op die tafeltjie. "So wat dink jy van my Hebreeus Eliana?" Wil sy weet. Minstens voel sy minder skaam as sy haar woordeskat op die kleuter beoefen. Eliana babbel iets onverstaanbaar. Adeleen sug: dis 'n moeilike taal. Nadat die kleuter ingesluimer het, maak sy haar eie ete versigtig in die kosher kombuis. Sy neem 'n mes en 'n bord van die eetgerei wat slegs vir suiwel en nie-vleis geregte gebruik word. Sy moet ook onthou om dit net in die linkerhands opwas bak te was. Toe sy daar aangekom het, het Mevrou Bichler etikette op alles geplak om te keer dat sy nie die verkeerde goed vat nie. Dit is verseker 'n uitdaging, maar ook 'n besonderse geleentheid dink Adeleen terwyl sy haar rustige middagete geniet. Een van haar pligte is om vir Eliana na die buurt se speelpark te neem. Dit is waarvandaan hulle netnou gekom het. Die Israeliese mense is dol oor kinders en hul parke is vol opwindinde speelgoed en ritte. 


In die begin, was dit haar bedoeling om in haar spaar tyd te skryf, maar sy kom net nie daar uit nie. Óf sy is besig om Eliana op te pas óf sy gaan uit met die familie. Dado en Carmel strande het haar aan die kuslyn van Durban herinner en die Duitse kolonie was interesant met sy mooi ou geboue. Sy het ook saam met Mevrou Bichler na die "Quiet Beach" gegaan. Op daai dag, kon net vrouens die strand besoek en in die water swem. Die mans moes hul beurt wag. Sy het ook so pas die Pasga saam met die familie gevier. Daar is iets wat haar lok as sy alles ineem: die sterk familie bande, die vaste tradisies en die samesyn van die feeste. Adeleen sit in die stilte en bedink haar grootword-jare as enkel-kind. Sy't alles gehad waaroor 'n meisie kon droom, maar later het sy bewus geword van die leegheid van haar en haar ouers' se lewe. Ván haar vriendinne en hul families het Sondae kerk toe gegaan. Nie hare nie. Sondae was vir die Mall en eet en uitgaan of kamp. Haar ouers het nooit gebid nie of oor God gepraat nie. Nou vind sy haarself in 'n huishouding waar God sentraal is. Almal moet lewe volgens Sy reëls. Adeleen weet nie eintlik of Hy bestaan of nie; sy't nooit rerig diep daaroor gedink nie, maar sy voel amper asof sy wíl in Hom glo.


*******


Die volgende dag is Adeleen se af-dag en sy besluit om die Baha'i tuine te besoek. Sy het reeds die prag tuine vanaf die pad gesien. Sy wonder of die vrede van die rustige plek haar eie hart sal stil maak. Sy voel soos een van die pelgrims wie van alle hoeke van die wêreld hiernatoe kom op soek na vrede en eenheid. Vind hulle dalk ook God hier? Sy geniet die oefening en die vars lug terwyl sy langs die styl paaie stap, al hoër, totdat sy die bekende tempel bereik. Shoo, maar die uitsig oor Haifa is ongelooflik, dink sy. Sy kan die hele stad sien tot onder by die Mediterreense See en die hawe. Sy merk ook vàn die vloot se skepe op die water. Maar die tempel is net 'n gebou en sy kry geen antwoorde daar op die heuwel.


*******


Toe sy later by die woonstel aankom, is Mevrou Bichler besig om die koue aandete uit te sit. Dit is Shabbat en geen werk word toegelaat nie. "Het jy die tuine geniet?" Vra sy terwyl sy die pastrami op 'n bord rangskik."Ek hou veral van die bome." Sy is nogal jonk, maar haar hare is weggesteek onder 'n kopdoek. 


"Kan ek jou iets asseblief vra?" Adeleen sit die servette netjies op die tafel. Mevrou Bichler glimlag vriendelik. "Natuurlik. "


"Hoe weet jy dat God rerig daar is? "Adeleen vra saggies, maar hoopvol.


Mevrou Bichler se hande word vir 'n rukkie stil. "Wel, ons glo in God want ons glo die Skrif. Dis eenvoudig."


Adeleen knik respekvol en die twee vroue gaan voort met die nodige taak. Die Skrifte; dink Adeleen. Sy weet dat die Jode net die Ou Testament lees, maar sy onthou dat haar vriendin Natasha beide 'n Ou Testament en 'n Nuwe Testament gelees het. Miskien moet sy 'n Bybel in die hande kry.


*******


'n Paar weke later, ry sy per bus na Jerusalem. Die rit vat een en drie kwart uur. Die Bichlers het haar 'n paar dae verlof gegee want hulle besoek familie op 'n kibbutz. Adeleen maak die Bybel oop wat sy gekoop het van die ou boek winkeltjie naby die Duitse kolonie. Sy blaai tot by die Nuwe Testament. Sy het al 'n paar van die boeke in die Ou Testament gelees, maar nou wonder sy oor Jesus. Haar vriendin Natasha het altyd haar notajies afgeëindig met "Jesus is lief vir jou." Sy't toe nie veel daaroor gedink nie. Net gedink dat haar beste vriendin bietjie snaaks is. Sy skat dat Jesus waarskynlik in die Nuwe Testament voorkom en sy is reg. Sy lees aandagtig deur die boek Mattheus, tot by die kruisiging. En sy huil vir hierdie Jesus Wie sy glad nie ken nie.


Met hulp van Google, vind sy die Kerk van die Holy Sepulchre. Dis asemrowend en dis ryklik versier en vol mense. En sy vind hom nie daar nie.


Sy stap met die touriste al langs die Via Dolorosa en dis vol lawaai en winkeltjies en ou, ou stene maar Hy is nie daar nie.


Adeleen stop by 'n kafeetjie en koop iets om te eet en drink. Sy sit by 'n piepklein tafeltjie en sien niemand vir 'n wyle nie want sy soek vir Jesus daar by die einde van Mattheus. 


Toe stap sy soos iemand wie gelei is na die bekende graf in die tuin. Selfs met die mense rondom haar, kry Adeleen 'n gevoel van vrede en kalmte. Die olyf blare fluister die ongelooflike storie van 'n Man wie eintlik God is, wie gesterf en begrawe was. Die rooi malvas spreek dieselfde tyd van vreugde en sy wonder, hoe kan dit wees?


En dan stap sy tot by die graf. Dit is leeg. Jesus is ook nie hier nie. Maar sy onthou die einde van die boek wat sy gelees het. Hy het opgestaan!


*******


By die studente hotel, maak sy haar Bybel weer oop. Tot diep in die nag in lees sy. Toe sy egter die boek Johannes begin lees, ervaar sy 'n verandering in haar hart. Haar vrae is nou beantwoord. Sy vind Jesus daar. "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God." (Afrikaans 1933/1953 vertaling.)


Sy tik gou 'n boodkap na haar vriendin Natasha op WhatsApp, wetend dat sy haar sal help. "Wat maak ek nou?" Vra sy eenvoudig. "Ek het Jesus gevind."




DIE EINDE




Wil jy ook dalk weet wat om nou te doen? Lees gerus soos Adeleen gedoen het, die boek van Johannes in die Nuwe Testament. Daar verduidelik Jesus in hoofstuk drie, vers drie, "Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koningkryk van God nie sien nie." (Afrikaans 1933/1953 vertaling). Ons is almal sondaars en ons benodig vergifnis. Ons moet ons sondes bely en vertrou op Jesus om ons te red. Vertrou op Jesus se kruisdood, waar Hy ons sondes op Homself geneem het. Gee jou hele lewe, jou alles vir Jesus en plaas jou geloof in Hom.Wanneer Jesus jou red, word jy Sy kind en sal jy die ewige lewe kry. 








WANDEL SAAM



Ons stap saam


na die roepende rivier,


voete stap dringend na die water,


weg van hitte van strate


en huis sonder elektrisiteit.


Daar sprankel die juweel water


waar die briesie laat brandertjjes speel


en ons moet stop


om alles net in te drink:


Dis helder en koel en die riete dans


wyl die voëls rus op die pale


en ons stap gemaklik aan.


 Merk jy die gemmer katjie


en die skilpad op sy tog?


Sien jy lig pers-pienk


van papier blommetjies 


of die visvanger duik vir sy ete


langs die bootjie


wat ruk op 'n tou?


Miskien wil hy bietjie gaan visvang


met sy baas daarbo gebuk


oor 'n hoop silwer vissies


wat mense van orals kan koop.


Sien jy die tweetjies in die water?


Soos 'n oomblik uit die verlede


is hul vreugde en sprank'lend gesig.


'n Bank langs die wal 


is perfek


om die tyd so bietjie te keer


en die kinders se lag te geniet.





In briesie, lag en sonskyn


in vrede sit jy stil


en hoor Sy stem by die water


My kind, Ek's so bly jy't gekom.







Die Einde




























.







Opmerkings

Gewilde plasings