'n Gratis Bundeltjie Kort Verhale

 



Afrikaanse Stories










GENOEG




Sy is diep, diep seergemaak deur die lewe. Die verliese; die mense wie hul messe in haar hart steek, en die kleiner dinge soos geld probleme en siekte. Sy sug daar in haar donker kamer. Die krag is af, maar sy is te moeg om selfs 'n kers aan te steek. So sy bly sit in die dik, onvriendelike stilte en sug oor die onlangse verlies; die leemte; die grysheid van haar lewe. Wat is daar nog om oor bly te wees?


Selfs haar klere keuse roep uit: donker, donker, alles is treurig en donker. Ek sal nooit weer rooi en pers en glimlaggies dra nie.


Uiteindelik, kan sy nie die onderdrukkende donkerte verdra nie. Sy steek 'n enkele kers aan en staar na die klein, huiwerige liggie.


Dit is dan dat sy iets hoor: diep, diep binne in haar hart. "Dogter, is Ek nie genoeg nie?"




Die Einde










 Kerkbank Krises



Daar is 'n goeie uitsig oor die hoof straat vanaf die tweede verdieping venster. Die swaar gordyne is oop en selfs die wit kant gordyn is aan een kant vasgemaak. Mevrou Bessie Lategan wil seker maak dat sy niks misloop nie. Al haar oggend takies is klaar gedoen. Nou sit sy en hekel. Sy hou vreeslik van hekel. Die goedjies wat sy nou maak is vir die kerk basaar: musse, baba jassies en selfs boekmerkies in die form van 'n kruis. Terwyl sy hekel, bekyk die ou witkop dame die straat daar buite. Sy stel haar bril bietjie laer sodat sy die motors en selfs mense kan uitmaak. Haar vêr sig is uitstekend: die oogkundige het self so gesê. Sy leun vorentoe en snak na asem. Dit kan nie wees nie! Daar loop Mevrou de Vries saam met 'n man wie definitief nie haar eie man is nie. Selfs van hierdie afstand kan sy sien dat hulle baie naby aan mekaar loop. Haar hekel pen beweeg al hoe vinniger. Miskien moet sy so bietjie met Dominee praat.  Die paartjie het nou verdwyn en Mevrou Lategan fokus op 'n groep kinders wie stap seker winkel toe. Hulle soek nonsens, dink sy, terwyl sy 'n skerp ogie op hulle hou. Die ou dame het lankal besluit dat dit haar God gegewe lewenstaak is om 'n ogie op alles te hou. Sy is ' n vooraanstaande lid van die kerk, sy woon elke byeenkoms by en haar sjokolade koek is legendies onder die lidmate. Mnr Dawie Lategan is sowat vyf jaar gelede oorlede. Nou woon sy met haar dogter en skoonseun en hul  drie kinders. Sy't haar bes gedoen om haar eie familie reg te ruk: nou kan sy 'n biejie van haar tyd en wysheid vir die res van die dorp gun.


*******


Daardie Sondag bevind Mevrou Lategan, daar waar sy penorent op die kerkbank sit. Die bank is heel voor en sy het dit altyd beskou as háár bank. Haar Bybel is oop en een van haar eie kruisies merk die plek. " Wat beteken die kruis dan rêrig vir ons?" Vra die Dominee. Vandag is die eerste in 'n reeks Paas dienste wat hy voorberei het. Die middel-jarige man dra 'n diep las vir die siele wie voor hom in die kerkbanke sit. "Die kruis is nie 'n simbool of bloot 'n element in 'n ou, ou storie nie. Nee. Die kruis beteken lewe vir ons: vir velore siele." Sy boodskap is amper op einde en hy pleit ernstig met hulle. "Het jy al by die kruis kom kniel en vir Jesus gevra om jou te red?"


*******


"Ja, hy kan kragtig preek," stem Mevrou Lategan saam. Sy skink 'n koppie tee vir haar vriendin, Marie Naudé. " Maar ek wonder of hy nie soms 'n bietjie te opdringerig is :of dit rêrig nodig is om dinge so hard te stel. Marie knik net haar kop. Sy wil nie stry met haar vriendin nie,

maar soms wonder sy of Bessie nie te hard op hulle Dominee is nie.


*******


Nietemin haar bedenkinge, woon Mevrou Lategan elke diens by. Elke keer eindig die Dominee sy preek met dieselfde woorde:  "Het jy al by die kruis kom kniel en vir Jesus gevra om jou te red?" Sy dink elke dag oor hierdie woorde. As sy 'n vinnige kykie na haarself gee, lyk alles silverskoon en netjies: elke Sondag sit sy haar plek vol in die kerk, sy is betrokke by amper al die liefdadigheid projekte en sy lees haar Bybel en bid. Maar nou sê Dominee dat dit nie genoeg is nie. Sy moet by die kruis kom kniel. Sondes bely. Sy probeer haarself ooreed dat sy geen sondes het om te bely nie, maar dan onthou sy met skaamte hoe haar skinder-bek haar soveel keer in die moeilikheid beland het en die skerp woorde wat sy dikwels uiter. Sy was voorheen so seker dat dit net klein foutjies was; dat haar goeie dade sou opmaak daarvoor, maar nou voel sy onseker. Dominee het ook gesê dat dit nie goeie mense is wie Hemel toe gaan nie, maar geredde mense. Sy sug. Sy is nie meer jonk nie. Die tyd het nou aangebreek....


*******


Dominee het gepreek oor die gebeure voor, gedurende en na die kruisiging. Dit is nou die laaste boodskap. Hy voel hoe kompleet akhanklik hy is op die Heilige Gees. Hy bid weer dat die Here die mense se harte sal versag." Het jy al by die kruis gekniel?" pleit hy weer. " Ek sal hier na die diens bly ingeval jy Jesus wil vra om jou te red." Dominee staan voor terwyl die mense die kerk verlaat. Sy kop is geboë: hy bid vir 'n wonderwerk. 


"Dominee?" Die stem is saggies, huiwerig.

Dominee kyk op en toe sien hy die trane op die ou wange van sy skoonma.

Mev Lategan buig haar kop. "Dominee, ek is jammer. Vir alles. Sal jy my asseblief help? Dis lankal tyd dat ek by die kruis kom kniel."


*******


Die Einde









Die Droogte




Karina se rug pyn. Sy kreun en druk haar hand op die seer plek. Sy rus vir net 'n kort rukkie: sy moet die water vir haar plante gee. Sy tel die emmer op en sukkel weer uit na die tuin. Haar buurvrou is besig om wasgoed op te hang.


"Gebruik dit liewer vir die toilet," sê sy nors. "Daai plante gaan dit nie maak nie. Die droogte is hier om te bly." 


Karina sug saggies, maar sy glimlag steeds. Sy bestudeer haar klein tuintjie. Daar's nie veel plante nie: net tamaties, beet en aartappels. Maar dis genoeg. 'n Simbool van hoop en terselfdertyd, kos vir haar familie. Deon het van sy af-tyd gebruik om 'n net bo oor die tuin te strek. Minstens word haar plante beskerm van die erg hitte.


"Dit is erg." Sy stem. "Maar ek glo dat hulle sal dit maak. Ons ook. God sal reën stuur. Ons vertrou op Hom." Karina glimlag weer. "Ons gaan weer vanaand by die biduur daaroor bid. Jy's welkom om saam met ons te ry."


Mevrou Bester maak wat klink soos 'n snork geluid. "Julle mors julle tyd. Die weer is onderstebo die hele wêreld om. Dis "global warming" en geen gebede gaan dit keer nie. Beter jy ruil jou groente vir vetplante, dis wat ek sê." Sy pluk haar wasgoed maandjie op en loop vinnig terug na die skaduwee van haar stoep." Maar dankie in elk geval." Roep sy oor haar skouer as 'n na-gedagte.


Karina sug weer. Sy voel eintlik jammer vir die vrou, sowel as vir baie van die ander mense op die dorp. Dit blyk vir Karina asof hulle absoluut geen hoop het nie en die geestelike droogte in hulle harte is soveel erger as die te kort aan reën. Sy gee die water sorgvuldig vir haar kosbare plante: elkeen kry sy deel. Terwyl sy werk, bid sy vir haar buurvrou: dat die Here haar hart sal versag.




*******




Die waaiers dreun bo-oor die klein groepie mense terwyl hulle uit volle bors sing: "Daar is krag, krag, wonderbare krag in die kosbare bloed van die Lam." Die reddende bloed, dink Karina. Dit is wat díe ou dorp nodig het. Saam met die reën. Reën op sy eie sal nooit genoeg wees nie. Ouderling Devenier buig sy kop nadat die koortjie klaar is. Hy bid kragtig vir die dorp's mense; vir herlewing; vir strome van lewende water. Toe bid elke siel op hulle beurt. Hulle pleit vir siele, vir die kerk, vir sagte harte en vir die werking van die Heilige Gees. Maar niemand bid dat water sal val nie. Toe dit Karina se beurt is, bid sy vir Mevrou Bester ook. Dominee stel voor dat koortjies weer gesing moet word: so heerlik was die samesyn. Met stemme en harte vol vreugde sing hulle die ou gunstelling liedjies van lof. Kariena is opgebeur deur die liefde van God wat so duidelik hulle omsingel. Sy druk Deon se hand saggies. Verbeel sy dit, of maak die waaiers meer geraas as gewoonlik? Maar nee, kan dit wees? Groot druppels wat val; druppels wat saam sing op die dak. Almal kyk skielik vir mekaar, verstom. Maar toe hardloop hulle almal buitentoe om dit met eie oog te sien. Die reën val harder nou. Hard genoeg om Kariena se hare te deurdrenk, maar sy gee nie om nie; glad nie. En ook nie die ander. Dominee se trane  meng met die hemelse water terwyl hy hulle lei in opreg dank gebed.




*******




Die volgende dag, werk Kariena vroeg oggend al in haar tuin. Sy juig toe sy haar plante sien. Hulle lyk so fris en groen. Dit het amper die hele nag gereën en selfs nou val 'n motreënjie. 


"Kariena," roep iemand," kan ek asseblief oor kom? Ek wil graag vir jou iets vra." Die stem behoort aan Mevrou Bester, maar dit klink anders: sagter, amper huiwerig.


"Jy is welkom," Kariena stap oor na die heining. "Ek sit die ketel solank aan."


Met 'n koortjie in haar hart, stap sy vinnig kombuis toe. "Dankie Jesus," bid sy, "baie, baie dankie."


*******


Die Einde











Die Te-Doen Lysie



Dis vroeg oggend en ek skryf 'n lys. Daar is soveel om te doen! Die lys takies is lank, maar die ure is maar min. Ek sal moet haas om dit alles gedoen te kry.


Die oggend dou glinster op die blomme en die gras, maar ek sien niks raak nie. Die kwetterende voeltjies bou hulle neste. Hulle is net so besig soos ek, hoewel ek dink nie hulle ervaar soveel stres nie.


Ek sorg vir die tuin gou-gou, sonder dat ek iets rerig sien nie. Ek is op 'n tydhouer. Die krag gaan binnekort af, en ek moet onthou om die ketel aan te sit, roosterbrood te maak, en die was masjien aan die gang te kry. 


Weer terug in die huis, skarrel ek rond. Daar was nie tyd vir 'n stilte tyd nie, so ek bid bietjie hier en daar terwyl ek rondhardloop.


Om tien uur, gaan staan alles. Ek ook. Ek maak koffie van die kookwater in die fles en neem dit na die tuin. Alles is nou stil. My buurman is by die werk, so hy het nie sy kragopwekker aan die gang gesit nie. Dit is so mooi. Die voëltjies maak sagter geluidjies nou. Pienk en wit blommetjies dra hul fraai rokkies net vir my.


Ek sit op die bank en drink alles in. Die wêreld het sy vinnige pas vertraag. Af en toe, vat ek 'n slukkie koffie. Dit sal 'n goeie tyd wees om vandag se Bybel gedeelte te lees, dink ek.


Ek maak die toep op my foon oop en lees die kort stuk. Marta en Maria. Ai, Here, ek is skildig. Ek het soos Marta vanoggend opgetreë: ek was so besig ek kon nie U stem hoor nie. Maar nou hoor ek Here, nou hoor ek U stem. Ek lees weer die Bybel stuk, maar hierdie keer, vat ek my tyd. Daar is geen haas nie daar in die tuin waar ek by Jesus se voete sit.


Die Einde



Kopiereg: Alison Lawrence 

Met liefde en gebede🩷💜🙏

Opmerkings

Gewilde plasings