Lankmoedigheid

 


Lankmoedigheid


"Kom gou, Leah, ons moet winkel toe stap. Ek het 'n paar goedjies nodig vir aandete." Lindie gryp haar beursie en haar sleutels. Ai, daar is nooit genoeg tyd vir 'n ma nie, dink sy.
"Jippie, kan ek skyfies kry? Ek hou so baie van stap, Mama, jy sien so baie. Miskien sal die flaminke in die vlei wees. Ek hou van pienk flaminke." Die ses-jarige gryp haar plakkies, en ma en dogter val in die pad.
Dit is een van daai prentjie-mooi dae: die lug is potblou, met enkele spookasem wolke in die verte.
"Daai ou wolkie lyk soos 'n hasie, nê, Mama?" 
Lindie knik net, ingedagte. Haar te-doen lysie vir die dag is lank, en die tyd is min. Sy begin om vinniger te stap. 
Leah se bene, sowel as haar mondjie hou tred. Sy praat oor skool, oor wat sy daai dag geleer het, en haar vriendin, Annie se katjie. Lindie is vaagweg bewus dat Leah die lewens-siklus van 'n skoenlapper beskryf.
"En Mama, dis ongelooflik né?"
"Jammer, skat, sê weer?" Skielik voel Lindie skuldig. Leah se glimlaggie is weg.
"Dat Jesus die skoenlapper gemaak het, Mama."
Lindie sluk. "O, Here." 
Sy lei haar kindjie na 'n houtbank daar langs die vlei.
"Ek is jammer liefie. Mama het nie mooi geluister nie. Vertel my weer asseblief. Ek wil alles hoor. Vertel my van Jesus se skoenlappers. Ek luister."


Die einde.



Kopiereg: Alison Lawrence

Baie liefde en gebede🩷🩷🩷🤗🤗🤗🙏🙏🙏

Opmerkings

Gewilde plasings