Stilstand. 'n Gratis Kort Storie
Stilstand
Nico slaan die stuurwiel vies. Hoe onnosel kan jy wees! Met sy gedagtes in 'n warvoel, het hy sommer gery. Nou, hier sit hy sonder petrol. "Stupid!" Mompel hy.
Die pad waarop hy tot stilstand gekom het, is redelik verlate. Hy kan 'n paar plaashuise sien, en 'n trop skape met hul lammers. Nou en dan, haas 'n trok of 'n bakkie verby hom, en meer selde, 'n BMW, of 'n Polo.
Nico gryp vir sy foon. Maar gooi dit gou weer op die passasier sitplek neer. Niemand gaan hierdie tyd van die dag die lang pad vat om hom te kom help. Diep binne sy hart, vorm daar 'n eenvoudige gebed. "God, as U nog daar is, help my asseblief."
Hy voel bietjie onnosel, en gryp weer halfhartig sy foon. Hy kyk na Whatsapp, en sy ma se boodskappies. Die boodskappies oor die kanker, en dat hy moet liewer kom kuier sodat hulle kan praat. Maar nou sit hy hier. Hulpeloos. En die trane kom.
Sy snikke keer dat hy eers die tik op die sy venster hoor, maar toe iemand met 'n bekommerde stem hom roep, vee hy vinnig sy nat gesig met sy mou af.
'n Vriendelike gesig kyk hom besorgd aan. Iets sê vir Nico dat die man veilig is. Hy maak die venster so bietjie oop. Hy sien nou dat 'n wit bakkie net voor hom gestop het.
"Is jy OK?" Vra die man.
Iets in die ou se stemtoon maak dat Nico sy kop skud. En skielk vertel hy die vreemdeling van sy ma, en die kanker, sy hopeloosheid, en die petrol.
Die man luister aandagtig. Hy skud sy kop stadig. Wanneer Nico stil word, antwoord hy stadig. "Ai, ek is vreeslik jammer om dit te hoor, seun. Maar, ek gaan dadelik 'n kannetjie petrol vir jou haal. Jy's welkom om daar by ons oor te slaap as jy wil. Ek het 'n woonstelletjie vir besoekers." Hy glimlag vriendelik. "Maar as nie, is dit minstens net 'n kort rit tot in Bethlehem. Jy kan daar vol maak."
Nico voel hy kan weer huil; maar hierdie keer uit dankbaarheid. "Dankie Oom. Baie dankie. Jy weet nie hoeveel dit beteken...Ek sal Oom betaal. Moet gou weer op die pad kom. Oom verstaan seker...baie dankie weer Oom."
Nico staan nou op die pad se skouer saam met die vriendelike boer.
"Ek is gou gou terug." Sê die man. En hy gee Nico 'n ferm drukkie op die skouer.
Verstom, wag Nico in sy gesluite motor. Die skadu's word nou lank. 'n Gebed van dankbaarheid vorm in sy hart vir 'n lank-vergete God.
"Hi daar." Die vriendelike gesig verskyn weer by die venster. Nico klim gou uit nadat hy oopgesluit het. Toe Nico hom weer Oom noem, se die boer vir hom. "Jy kan my Oom Ferdie noem." Nico steek sy hand uit, en gee vir Oom Ferdie sy volle naam. "Nico Oosthuizen."
Oom Ferdie maak vinnig die kannetjie weer leeg en sluit die petrol deurtjie. Langsaam, sit hy dit weer agter in sy bakkie en gaan staan weer by Nico. "Seun, ek gaan vir jou moeder en vir jou bid. Nou, en elke aand." Hy buig toe sy kop, en bid kort maar kragtig.
Nico eggo Oom Ferdie se "Amen" met syne. Die trane lê weer vlak in sy oë. Hy begin weer om Oom Ferdie te dank, maar die man skud sy kop. "Geen dank nodig nie, Nico. Sê dankie net vir God. En vertel my, seun. Het jy al vir Jesus, Die Messias van Bethlehem ontmoet?"
***
Storie kopiereg, Alison Lawrence



Opmerkings
Plaas 'n opmerking