Die Eerste Klip. 'n Gratis, Bemoedigende Kort Verhaal.

 



Die Eerste Klip


Deur Alison Lawrence




"Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering."


Lukas 5:32

(Ou Vertaling)




"Mooi so Leilani, 'it's a wrap,' soos hulle in Engels sê. Jou stem is ongelooflik."

"Dankie Tiaan, dis omdat ek so 'n goeie span het." Leilani se oë sprankel terwyl sy rondkyk. Dis hààr wêreld hierdie: die orkes, die klank sisteem, die verhoog. Môre gaan sy sing voor 'n skare, en sy is gereed. Die talentvolle Simon Greef gaan as gas-kunstenaar optree. Leilani is opgewonde oor die liedjie wat hulle twee gaan saamsing want hulle stemme pas so mooi bymekaar.

"Sien julle almal môre vir die laaste oefening." Sy waai vir die span.

"Rus jou stem vanaand, engel." Herinner Tiaan haar. Almal weet dat hy dol verlief op Leilani is, maar hy gee nie om nie. Sy is die mooiste, liefdevolste en dierbaarste vrou in die heelal. Haar stem is soos die van 'n engel; sy lyk ook soos een met haar blonde hare en groot blou oë. Dis 'n wonderwerk dat sy ingestem het om sy meisie te wees. Terwyl Tiaan 'n laaste klank toets doen, herinner hy homself dat hy stadig sal moet beweeg. Leilani is beslis nie 'n rooi rok bokkie nie: sy is die tipe meisie vir wie 'n man 'n ring moet koop.


***


Terwyl sy na haar motor stap, dink Leilani aan Tiaan. Hy is eintlik perfek vir haar. Hulle werk albei in die musiek industrie, maar meer belangrik, hy is sensitief, nie soos die meeste mans nie. Sy aantreklike donker hare en oë en stylvolle voorkoms is 'n soete bonus. Ja Tiaan, glimlag sy, ek sal na jou luister en vanaand my stem rus, maar eers moet ek 'n draai by Arno en Elzaan maak. Haar ligte bui verdwyn. Sy bestuur versigtig langs die besige pad in die rigting van die noordelike stede. Kleinboet het sy hele lewe opgemors, die familienaam deur die modder gesleep en sit nou sonder vooruitsigte. Op die ouderdom van twintig is hy nou opgesaal met 'n negentien-jarige vrou en 'n pasgebore baba. Leilani het uitgestel solank as moontlik, maar nou voel sy verplig. Die baba is mos haar neef. 'n Gevoel van walging spoel oor haar. Sy kyk vlugtig na die groot geskenksak langs haar. Hoe kon Arno sy rug op sy goeie opvoeding draai en hulle ouers se harte stukkend breek, homself gedra soos iemand met geen klas nie? 

Sy parkeer by die woonstel en sit. Uiteindelik sug sy diep en klim uit. Sy kyk op na die verouderde gebou en dank God dat sy nie soos Arno, 'n afdraai pad gevat het nie. Sy was altyd die soet kind en dit is hoe dit gaan bly.


Leilani klop senuweeagtig aan die deur op die derde verdieping. Arno maak dit vinnig oop, met 'n breë, verwelkomende glimlag op sy gesig. "Sus, ek is so bly jy't gekom. Elzaan ook. Kom binne. Sy en Hermantjie is in die sitkamer."

"Ek kan nie lank bly nie. Ek sing môre." Sy voel ongemaklik hier in die klein woonstellejie. Sy ken nie hierdie broer van haar wat pa en eggenoot geword het en wie soos 'n gewone persoon in 'n supermark werk nie. 

"Ek weet. Ek het jou op die voorblad van Huisgenoot gesien. Kom, jy moet ons babatjie ontmoet."

Leilani kan nie langer uitstel nie. Sy volg Arno na die sitkamer. Elzaan kyk op en glimlag skaam. Haar lang bruin hare is los en sy lyk bitter jonk, maar die uitdrukking op haar gesig is moederlik en teer. Leilani stap versigtig nader, want die bondeltjie in Elzaan se arms slaap.

"Wil jy hom vashou? Hy sal nie wakker word nie."

Leilani knik net, haar oë is vasgenael op die pragtige babatjie. Sy hou hom versigtig vas en bestudeer die mooi gesiggie. Sulke lang wimpers vir 'n seuntjie. En die oulikste klein neusie. "Hy ruik na 'n lente briesie," sê sy saggies.

"Ek sal koffie maak." Arno gaan sit die ketel aan. Vyf minute later, is hy terug met drie bekers op 'n skinkbord. Soos 'n tiener, dink Leilani, met sy denim broek en blonde krulle. Maar sy voel hoe haar hart versag teenoor haar broer. Hy't so verander. En die kleintjie in haar arms het alreeds in haar hart ingekruip. 


Op die ou end vertoef sy langer as 'n uur. Elzaan, nou minder skaam, praat saggies oor Herman se geboortedag. Leilani voel skielik spyt dat sy haar so afsydig gehou het, maar sy besluit dadelik dat sy 'n betrokke tannie gaan wees.

Die tyd breek aan om te ry, en sy gee drukkies vir Elzaan en die babatjie. Arno stap saam met haar na haar motor.

Sy gesig lyk ernstig en hy praat dringend maar sag.

"Sus, Ek het verkeerd opgetree. Ek het vir jou en vir Ma en Pa erg teleurgestel." Hy sug, maar kyk reguit in haar oë. "Ek wil net sê hoe jammer ek is. Ek weet ek is 'n sondaar. Ek het my sondes bely en Jesus gevra om my te red. Elzaan ook. Kan jy ons vergewe?"

Die woorde kom nie uit nie, maar wel die trane, en Leilani slaan haar arms rondom haar boetie. Wanneer sy bietjie bedaar, sê sy "met my hele hart. Maar kan julle my ook vergewe?"

Arno glimlag gelukkig, en verseker haar dat hulle dit alreeds gedoen het.

Leilani klim half teen haar sin in die motor. "Ek moet ry, Arno, maar ek gaan gou weer kom kuier. Ek wil só graag vir Hermantjie weer sien. En vir julle."

Terwyl sy wegry, sien sy vir hom in die tru-speëltjie. Hy staan en waai, met 'n glimlag so breed soos die Berg Rivier mond op sy gesig.


Leilani se oë is nat, maar haar hart voel lig. Sy bely haar trots en onvergewensgesindheid voor die Here en gooi die groot, lelike klip wat sy sou gegooi het, vêr, vêr weg van haar.


Die Einde


Kopiereg: Alison Lawrence


Baie dankie aan my vriendin en kerk-suster wie die storie deurgelees het en korreksies gemaak het.🩷🩷🩷🤗🤗🤗


Die Engelse weergawe van die storie kan gelees word

 op: Basket of Hope


Dankie dat julle ingeloer het en dankie vir die saamlees. Deel asseblief met vriende en familie.


Liefde en gebede,

Alison




Opmerkings

Gewilde plasings