Vreugde

 



Ek dink dat Maandag 'n goeie dag is om oor die onderwerp van vreugde te dink.  Dank die Here, ons kan elke dag van die week Sy vreugde ervaar, maar baie van ons sukkel miskien bietjie meer op 'n Maandag.

Die gedig hierbo, is getitled, "blydskap." Ons weet dat daar 'n verskil is tussen blydskap (happiness) en vreugde: blydskap hang meestal af van ons gevoelens en omstandighede, terwyl vreugde, 'n vrug van die Gees is, en teenwoordig kan wees onder alle omstandighede.

Maar kom ons dink oor die woord, blydskap. Daar is iets vrolik omtrent die woord, en dis goed om te erken dat Jesus se teenwoordigheid in ons lewens ons bly maak. Ek gaan dit duidelik stel: ek is onsettend bly dat Jesus my gered het en in my hart kom woon het. Ek is bly! Bly! Bly! So bly.

En dan is daar vreugde. Dis 'n diep woord, né? Miskien is vreugde soos 'n oseaan sonder bodem. Want die vreugde van God kom nooit tot 'n einde nie.

Ek het netnou oor my oorlede Ma gedink. Ek het verlangend na haar ou stoof en resepte boeke en fraai tee koppies gekyk, en ek het so na haar verlang. Droefheid en treurigheid het oor my hart gespoel. Maar nou sit ek hier, en ek skryf oor blydskap en vreugde. Hoe kan dit wees? Die antwoord lê binne in my. Jesus woon in my, en ek is gevul deur Sy Gees. Alle eer aan Hom dat ek vreugde kan ervaar, ten spyte van moeilikhede, teleurstellings en pyn. 

Die waarheid is, Jesus maak my hart bly. As ek Hom het, het ek eintlik alles, en kan ek met vreugde in my hart hierdie Maandag aanpak.

En jy, liewe leser? 



"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!"

Filippense 4:4(Ou Vertaling)



Kopiereg: Alison Lawrence

Opmerkings

Gewilde plasings